Ons is God se gehoorsame kinders wat deur geloof,  hoop, liefde en diens ʼn veilige hawe bied en uitreik na almal.  

 

Waverley-Oos Gemeente

 

Op 1 Oktober 1966 is ‘n nuwe kandelaar in die kerk van Jesus Christus aangesteek.  Dit is die dag waarop Waverley-Oos amptelik afgestig het van die Moedergemeente Waverley.

Op 15 Mei 1971 is die huidige kerkgebou ingebruik geneem.  Die kerkgebou manifesteer die gestaltelike simbool van die gemeente se toewyding, samewerking en geloof in Christus.  Dit is ook ‘n unieke gebou, ryk aan simboliek wat soos ‘n melodieuse Christusgewyde lied, ‘n boodskap van wyding, harmonie en stemming bly uitdra. Dit dra bewustelik in konkrete vorm, die

 

boodskap uit van Christusaanbidding in vorm-, tekstuur-, kleur-, lyn- en ligspel as ook in Bybelse getalsgroeperinge. 

So dra die ingangsdeure die volgende toepaslike Christelike simbole in rooi en geelkoper:  die drie kruise van Golgota, die geboortester, die kandelaar en die alfa en omega.  Die hele erediensruimte is gerig op die liturgiese ruimte, met ‘n aandagswand waarteen die drie kruise van Golgota simbolies treffend aanspreek, asook die vertoon van die simbole van die Woord (preekstoel) en die Heilige Sakramente (nagmaalstafel met bord en erdekruik met brood en wyn) en die Doop (doopvont).

Op 5 November 1988 is die huidige gemeentesentrum in gebruik geneem.  Die uitstaande kenmerke van die gemeentesentrum is die funksionele ontwerp van die saal, die kombuis en die lokale.  ‘n Verskeidenheid van geleenthede word hier aangebied en die opdrag in Joh 21:15  “Laat my Lammers wei” word voorwaar deur die gemeente hier uitgeleef.

Ligging van die gemeente
Die kerkgebou is geleë op die noord-oostelike hoek van Dickensonlaan en Trumperstraat. Geografies is die gemeentegrense van Breyerlaan in die noorde tot Collinslaan in die suide met Frystraat in die weste en Darlingstraat in die ooste. Persone wat buite hierdie grense woon en tog by ons gemeente en sy werksaamhede wil inskakel is baie welkom en word elders ingedeel en as sodanig bedien. 

 
 

Copyright © 2011 NG Kerk Waverley Oos